Ons Gesin
Tuisblad
Kommunikasie
Nuusbrokkies
Geskiedenis
Foto's

Hoofstuk 5.

 

My Eerste Jare

en die Politieke Toneel van daardie Tyd

           

 

Sovêr ek kan vasstel was daar net twee belangrike gebeurtenisse wat op Saterdag 11 Augustus 1928 plaasgevind het naamlik dat een of ander man ’n nuwe wêreld rekord in fietsry opgestel het en dat ek in Bloemfontein gebore is.  Ek is gebore in die prinsepaal se huis op die gronde van die Ambagskool.  In daardie dae het almal nog gepraat van die prinsipaal en nie van die hoof nie.

 Daar is ‘n engelse rympie wat die eienskappe van die kind koppel aan die dag van die week waarop hy gebore is.  Dit begin met “Monday’s child is fair of face” en gaan dan aan so deur die week tot by “Saturday’s child has far to go but the child that’s born on the Sabbath-day is good  and happy and blithe and gay.” Ek is ongelukkig ‘n dag te vroeg gebore om al die goeie eienskappe van die “child of the Sabbath day” te kry.  (Terloops die “gay” het toe nog die betekenis van “opgeruimd” gehad en nie vandag se negatiewe betekenis nie)  Wat “Saturday’s Child” betref dink ek, ek het darem ‘n entjie gekom.

 Die jare rondom my geboorte was op politieke gebied in Suid-Afrika baie bedrywig.  Ek moet nou eers ‘n paar jaar terug gaan om die situasie in 1928 te verduidelik.  Na die Anglo-Boere oorlog het die twee voormalige Boere republieke Britse Kolonies geword.  Saam met die Kaap Kolonie en Natal was daar dus vier kolonies en ‘n paar protektorate van Brittanje aan die suid punt van Afrika.  Hierdie vier kolonies het in 1906 elk ‘n vorm van selfregering gekry.  In 1910 is hulle saam gevoeg om die Unie van Suid-Afrika te vorm.  In die tyd het ‘n aantal generaals van die voormalige republieke ‘n baie belangrike rol gespeel in die politieke ontwikkeling van Suid-Afrika.  Professor Kruger noem dit “The Age of the Generals” in sy boek[1] met dieselfde naam.

 Generaal Louis Botha was die eerste Eerste Minister van die Unie.  In sy kabinet was twee ander Boere generaals naamlik Jan Smuts en Barry Hertzog.  Ander generaals soos Christiaan de Wet en Koos de la Rey was parlementslede.  Generaal Botha was ‘n groot voorstaander van versoening tussen Boer en Brit. Hertzog het hom weer beywer vir die beskerming van Afrikaner belange en het die beleid van “Suid-Afrika Eerste” bepleit.  Hulle was lede van die Suid-Afrikaanse Party (SAP).  Daar het egter onenigheid tussen Botha en Hertzog ontstaan wat daartoe gelei het dat Hertzog en sy volgelinge, waaronder Generaal de Wet, uit die SAP bedank het en in 1914 hulle eie party, die Nasionale Party, gestig het.

 Botha en Smuts het gevoel dat Suid-Afrika nou deel van die Britse Ryk is en dat daar met die Britte saamgewerk moes word. Aan die anderkant was daar nog ‘n groot groep Afrikaners wat die Britte as die tradisionele vyande van die Afrikaner volk beskou het.  Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, in Augustus 1914, het hierdie mense gedink dat dit ‘n geleentheid was om in opstand te kom.  Hulle aksie staan bekend as “Die Rebellie” Die leiers onder die groep was die generaals de Wet, Beyers, Kemp en Maritz.

 Suid-Afrika is versoek om Duits-Suidwes-Afrika binne te val en die regering oor te neem.  Baie Afrikaners was teen hierdie inval gekant en het gevoel dat Suid-Afrika eerder neutraal moes bly.  Bowendien het hulle gevoel dat die Duitsers hulle tydens die Anglo-Boere oorlog moreel ondersteun het terwyl die Britte die vyand was.    

In die tyd is Generaal de la Rey een van die teenstanders van die inval ook per ongeluk (sommige het gemeen moedswillig) deur die polisie doodgeskiet.  Dit het die hele situasie vererger.  Daar word geskat dat daar ongeveer 10 000 “rebelle” was.  Die Rebellie was egter ‘n groot mislukking en meeste van die leiers is gedood of gevange geneem.

 ‘n Baie omstrede gebeurtenis tydens die rebellie was die teregstelling van Jopie Fourie.  Hy was ‘n offisier in die Unie Burgermag.  Die Burgermag het bestaan uit mense wt ander werk as die van soldaat gehad het maar wat in noodgevalle vir diensplig opgeroep kon word.  Hy het by die rebelle magte aangesluit en aan verskeie gevegte deelgeneem.

Toe hy gevang is, is hy van hoogverraad aangekla en binne ‘n dag deur ‘n krygshof skuldig bevind.  Die volgende oggend is hy, met die medewete van Generaal Smuts, deur ‘n vuurpeloton tereg gestel.  Baie Afrikaners het Jopie Fourie as ‘n groot held en martelaar beskou en het gevoel dat Generaal Smuts verantwoordelik was vir sy dood. Jopie Fourie is familie van Hanlie, Danie se vrou.

 In 1918 is die oorlog beëindig.  By die vredeskonferensie na die oorlog is Suid-Afrika deur Generaal Botha en Generaal Smuts verteenwoordig.  Tydens die konferensie is besluit om ‘n wêreld liggaam, die Volkebond, te stig waaraan alle nasies kon behoort en waar enige geskille tussen nasies besleg kon word.  Smuts het hierin ‘n belangrike rol gespeel.  Die konferensie moes ook ‘n vredesverdrag met Duitsland opstel Hierdie verdrag is die Verdrag van Versailles genoem.  Botha en Smuts het die ander afgevaardigdes gewaarsku dat die verdrag onregverdig is teenoor Duitsland en dat hulle te wraaksugtig is.  Die twee het ook gewaarsku dat die bepalings van die verdrag van so ‘n aard is dat dit tot ‘n volgende oorlog kon lei.  Hulle het egter ten spyte hiervan die verdrag onderteken.  

 Na die dood van Louis Botha in 1919, het Smuts leier van die SAP en Eerste Minister van Suid-Afrika geword.  Smuts was hoofsaaklik aangewese op die steun van Engelssprekendes vir sy party. Die Nasionale Party, onder Generaal Hertzog, is weer hoofsaaklik deur Afrikaners ondersteun.

 Die regering van Smuts is in 1924 deur die “Paktregering” oorgeneem.  Die Paktregering het bestaan uit lede van die hoofsaaklik Afrikaanssprekende Nasionale Party en die hoofsaaklik Engelssprekende Arbeidersparty.  Tydens Hertzog se bewind is daar ‘n hele paar belangrike wette aangeneem.  In my geboortejaar het Suid-Afrika, na’n lang politieke stryd, ‘n eie nasionale vlag gekry.  In 1930 het blanke vroue stemreg verkry. In 1926 is die “Balfour Declarasion” uitgereik, hoofsaaklik as gevolg van die aandrag van Hertzog tydens die voorafgaande Britse Rykskonferensie, en in 1931 het die Britse parlement, die Statuut van Westminster aangeneem.  Hierdie Statuut is in 1934 deel van Suid-Afrika se wetgewing gemaak toe dit deur die Suid-Afrikaanse parlement aanvaar is.  Die Verklaring en die Statuut het dit duidelik gestel dat Suid-Afrika en ook Kanada, Australië en Nieu-Seeland volkome onafhanklike lande is maar elkeen het afsonderlik die Britse Koning of Koningin as sy staatshoof en ‘n eie Eerste Minister as die regeringshoof.

 As gevolg van die ineenstorting van die aandele beurs in New York in Amerika in 1929 het daar ‘n depressie ontstaan wat deur die hele wêreld, ook Suid-Afrika, finansieel en ekonomies  gevoel is.  Die mark vir goud en edelgesteentes het kwaai agteruitgegaan.  Dit het weer die gevolg gehad dat daar groot werk verliese was en groot armoede ontstaan het. Dit was oor die volgende paar jaar so erg dat dit Suid-Afrika se ekonomie byna geruïneer het. Hierdie tydperk staan bekend as die Groot Depressie.  In 1933 was daar ook ‘n groot droogte wat die hele depressie toestande nog erger gemaak het.

 Onder hierdie omstandighede het Hertzog gevoel dat daar ‘n regering van nasionale eenheid moet wees om Suid-Afrika deur die krisis te dra. Smuts het met hom saam gestem en hulle twee partye, naamlik die SAP en die Nasionale Party, het toe saamgesmelt.in 1934.  Hierdie nuwe party was die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party genoem.  Dit het gou bekend gestaan as VP.  Dr DF Malan, die leier van die Nasionale Party in Kaapland het nie hiermee saamgestem nie hy en sy ondersteuners het toe die Gesuiwerde Nasionale Party gestig.  Dr Malan het groot steun onder baie van die Afrikaners gehad.[2]

 Dit was onder hierdie toestande dat ek as depressie kind gebore is. Gelukkig het my pa ‘n pos as onderwyser in die staatsdiens beklee en was hy nie in dieselfde penarie as baie ander mense nie.  My ouers moes egter maar ook baie spaarsamig met hulle geldjies werk want as gevolg van die depressie was die onderwys salarisse maar baie klein. Dit is hoekom ons vandag nog, as ons nie maklik geld uitgee nie, sê dat ons nie suinig is nie maar net depressie kinders is.

 Bloemfontein waar ek gebore is, is in 1846 deur die Engelse Majoor Henry Warden gestig as ‘n buitepos in die Trans-Oranje gebied.  Later het dit die hoofstad van een van die twee Boere Republieke naamlik die Orange Vrystaat geword.  Van die tyd van die stigting van die Unie in 1910 was Bloemfontein die Geregtelike Hoofstad van die Unie van Suid-Afrika en later van die Republiek van Suid-Afrika.  Dit is ook die setel van die Provinsiale Regering van die Vrystaat provinsie.  Bloemfontein is nie ‘n groot stad nie en het vandag so ongeveer 370 000 inwoners.  Toe ek gebore is was dit natuurlik nog baie kleiner.

 Ons het nie lank in Bloemfontein gebly nie want my pa is nie lank na my geboorte gevra om ‘n nuwe Ambagskool by Bloemhof in Wes-Transvaal te begin.  Hy moes net ‘n paar maande daar bly totdat die skool goed aan die gang was en is hy toe na die klein dorpie Kareedouw in die Oos-Kaap verplaas.  Die Ambagskool op Kareedouw was bedoel om veral vir die verarmde boswerkers se seuns ‘n ambag te leer.

 Ek kan nie veel onthou van die tyd op Kareedouw nie want ek was maar so twee jaar oud. Daar is wel twee insidente wat ek wel onthou.  Die een is dat ek daar my eerste vliegtuig gesien het.  ‘n Klein twee sitplek vliegtuig het op ‘n plaas aangrensend aan die dorp kom land.  Die seuns van die skool het almal uitgehardloop na die plaas toe on die nuwigheid te sien.  Ek en Alma is, sonder om vir ons ma te sê, agterna.  Onthou ek was maar ‘n biejie ouer as twee jaar en Alma maar net ‘n bietjie ouer as drie jaar.  Toe my ma agterkom dat ons weg is om na die vliegtuig te gaan kyk was sy natuurlik baie bekommerd.  Toe sy ons kom haal het was ek en Alma maar baie onwillig om huis toe te gaan want dit was darem nie aldag wat ‘n mens op Kareedouw ‘n vliegtuig van naderby kon beskou nie.

 Die ander insident het meer langtermyn gevolge gehad.  Ek en ‘n maatjie het by hulle huis met ons driewiele gespeel.  Ons het leë bottels gevat en dit vol water gemaak en dan gespeel dat ons petrol in on “motorkarre” gooi.  Ek het gesoek vir ‘n groter bottel want die een wat ek gehad het was na my sin gans te klein.  In ‘n stoorkamer het ek op ‘n rak ‘n baie groot bottel gesien.  Toe ek dit van die rak afgehaal het was dit vir my te swaar en het ek dit laat val en het die bottel gebreek en die vloeistof wat in die bottel was het op my gespat.  Wat ek nie geweet het nie en nie eers sou verstaan het nie was dat die inhoud van die bottel swawelsuur was nie.  Die suur het my op my een voet en die ander been se knie gespat en dit erg gebrand.  Die maatjie se ma was nie by die huis nie en die bediende wat ons moes oppas het toe met my na die skool gehardloop.  My Pa-hulle het dadelik die enigste dokter van die dorp gebel om te hoor wat om te doen. Hy was ongelukkig weg vir die dag na Port Elizabeth toe. Hulle het toe ‘n dokter op die naburige dorp Humansdorp gebel.  Hy het toe vir hulle gesê om koeksoda op te sit om die suur te neutraliseer. Ek het vandag, na tagtig jaar, nog die merke op my voet en op my knie waar die suur my gebrand het.

 


[1] Age of the Generals deur D.W. Krüger.  Uitgewer: Dagbreek Book Store 1958

[2] Sien voetnota 4









Tuisblad
Kommunikasie
Nuusbrokkies
Geskiedenis
Foto's
Geslagregisters
Stamboom
 
 
Site Map