Ons Gesin
Tuisblad
Kommunikasie
Nuusbrokkies
Geskiedenis
Foto's


Hoofstuk 1.

Die Eerste van Gasse
  

voc1_ADie eerste van Gass, naamlik Johann Georg van Gass, het in1816 met die Hollandse skip,‘Onderneming’, na Suid-Afrika gekom.[1] Volgens argief inligting is hy ongeveer in 1792 in St Gallen, in die noord-ooste van Switserland, gebore.[2]  Dit is in wat vandag die Duits sprekende gedeelte van Switserland is. Ons vermoed dat sy van oorspronklik net “Gass” was en dat die “van” gedeelte bygekom het toe hy na Suid-Afrika gekom het.

 As jong man het hy by die Franse leër aangesluit en was later ’n Adjudant in die Protestant-Switserse lyfwag van Napoleon I. Hy was saam met die Franse leër in baie gevegte in Egipte, Italië, Spanje, Duitsland, Rusland en by die slag van Waterloo.  In Rusland het hy twee sabel wonde en twee Kossak spies wonde opgedoen.  Tydens die slag van Waterloo is hy swaar gewond en krygsgevangene geneem.  Die lyfwag regimente van Napoleon is in Augustus 1815, ‘n paar maande na Waterloo deur Koning Louis XVIII, ontbind.

 Na die Napoleontiese oorloë het ‘n nuwe era tot stand gekom.  Daar was reeds vir 25 jaar oorlog in Europa en die mense was moeg vir oorlog.  Nuwe idees het tot stand gekom.  Die invloed van die Franse Rewolusie met sy gedagtes van Vryheid, Gelykheid en Broederskap is nie met die val van Napoleon tot niet gemaak nie.  Die Aufklärung beweging van die einde van die vorige eeu het ook ‘n groter rol gespeel.

 Nuwe nasionale state het ontstaan en sommige grense is gewysig en ander het verdwyn.  Die ou gedagte van Heer en Kneg (Lord and Peasant) was ook aan die verby gaan en mense het al meer ‘n gevoel van lojaliteit teenoor hulle land gehad eerder as teenoor die koning.  Hierdie beweging was egter nie sterk genoeg om ontslae te raak van monargiese stelsels in Europa nie en baie van die konings en die sterk posisie van die aristokrasie het nog vir baie jare voortbestaan.

 Droogte en swak oeste het in 1815 en 1816 in sowel Groot Brittanje as Europa voorgekom.  Die depressie was nie net tot die landbou sektor beperk nie maar het ook na nywerhede en besighede versprei.  Baie banke en besighede het tot niet gegaan en daar was grootskaalse werkloosheid.  Hiermee saam was daar vanaf die einde van die vorige eeu reeds ‘n geweldige toename in die bevolking.  Dit was onder hierdie omstandighede wat die oud-soldaat Johann van Gass uit Europa padgegee het en na Suid-Afrika gekom het.

Hier in Suid-Afrika was die posisie dat die Kaap Kolonie deur ‘n maatskappy naamlik die Oos-Indiese Kompanjie (Vereenigde Oost Indiese Companjie of VOC ) , wat op die punt was om bankrot te speel, tot 1795 regeer is.  ‘n Britse mag het in daardie jaar, sogenaamd namens die Prins van Oranje van Nederland, die Kaap oorgeneem. In werklikheid wou hulle verhoed dat die Kaap in Franse hande val. Hulle het in die Kaap gebly tot 1803 toe dit terug gegee is aan die Nederlanders.  Omdat die VOC nie meer bestaan het nie is dit aan die Nederlandse regering van die Bataafse Republiek gegee.  Hulle was egter maar net vir ‘n paar jaar hier aan die Kaap want in 1806 het die Britte weer die Kaap oorgeneem van Napoleon se Nederlandse bondgenoot.

 Tydens die bewind van die VOC het die Kaap hoofsaaklik gedien as ‘n verversings-stasie om die skepe van die Kompanjie, wat op pad was van en na Oos-Indië, van vars produkte te voorsien.  Byna alles aan die Kaap het aan die VOC behoort.  Daar het wel mettertyd ‘n al groter wordende groep “vryboere” ontstaan wat van hulle produkte aan die Kompanjie verkoop het.  Van hierdie vryboere het al verder ooswaarts getrek en grond van die Khoi-San verower. Teen 1750 het van die wit jagters kontak gemaak met van die Xhosa sprekende swart stamme wat van die noord-ooste uit midde Afrika suidwaarts beweeg het. Hierdie kontak tussen swart stamme en wit boere het later uitgeloop op ‘n konflik situasie want beide groepe was op soek na meer grond vir hulle vee.  Die wit boere het beweer dat van Xhosas hulle vee gesteel het en hulle vee-wagters dood gemaak het en die Xhosas het weer gesê die boere het hulle weiveld gevat.  Hierdie konflik het later uitgeloop op ‘n aantal sogenaamde grens-oorloë.  Beide tydens die bewind van die VOC en die Britte het die boere weinig ondersteuning van owerheidskant gekry.

 Terwyl hierdie konflik in die vroeë jare van die 1800’s aan die oos-grens van die Kaap Kolonie aan die gang was daar ‘n ander konflik en groot omwenteling aan die ontwikkel verder na die Noorde toe.  Dit staan bekend as die Mfecane.  Dit was ‘n stryd tussen verskillende swart groepe en het ‘n baie groot invloed gehad op die ontwikkeling van die hele Suider-Afrika. Shaka, wat ook al die swart Napoleon van Afrika genoem is, het hierin ‘n groot rol gespeel. Ek vertel later meer hieroor.

 Ek moet terug kom na my verhaal van die van Gasse.  Op 4 Oktober 1823 is Johann van Gass te George getroud met Jacoba Barendina Zimmermann wat in 1805 in die Kaap gebore is.  Haar pa was Johann Heinrich Zimmerman oorspronklik van Hadersleben in Schleswig-Holstein in Duitsland.  (Tans deel van Denemarke en word genoem Haderslev)  Hy het in 1778 na die Kaap gekom Hierdie Johann Zimmerman was ’n welvarende handelaar in die Kaap.[3]

 Johann van Gass het aanvanklik in die besigheid van sy skoonvader in die Kaap gewerk maar na ’n onenigheid met die skoonfamilie het hy na die Oos-Kaap verhuis en as onderwyser by boere-gesinne gaan werk.  Hy en sy vrou het drie seuns en een dogter gehad.  Sy vrou is egter vroeg oorlede toe die kinders nog klein was. Die oudste seun, Ferdinand Paulus, was my oupa-grootjie.  Hy is op 13 Oktober 1824 gebore in die distrik Graaff Reinet.

 In die tyd het die posisie aan die Oos-grens van die Kaap Kolonie al verder agteruit gegaan. Dit het teen 1834 kookpunt bereik toe daar ‘n groot inval oor die grens was deur van die swart stamme. Hoewel die goewerneur van die tyd, Sir Benjamin D’Urban, streng opgetree het, is sy pogings tot niet gemaak deur die Koloniale Sekretaris, Lord Glenelg, in Londen.  In 1833 het die Britse Parlement ook ‘n wet aangeneem wat tot gevolg gehad het dat alle slawe in die Britse kolonies vrygelaat sou word. Daar is wel kompensasie aan die eienaars van slawe aangebied maar in die praktyk het dit niks beteken nie want hulle moes hulle geld in Londen gaan haal het.  Daar was ook ander faktore wat die Boere aan die Oos-grens ongelukkig gemaak het soos die verandering aan die Hof prosedures en die verengelsing van die howe en ander staatsorgane wat reeds tydens die Goewerneurskap van Lord Charles Somerset van 1814 tot 1826 begin is. Al hierdie en ander faktore het veroorsaak baie van die boere aan die oos-grens gevoel het dat hulle geen hulp en ondersteuning van owerheidskant gekry het nie.  Hulle het gevoel dat hulle eerder die Kaap Kolonie onder Britse bewind moet verlaat en hulle eie republieke iewers verder noord in die binneland moet gaan stig. Daar het gevolglik ongeveer 12 000 Afrikaners, mans, vroue en kinders, onder verskillende leiers, die Kolonie verlaat tussen 1835 en 1843.  Hulle het weggetrek met hulle ossewaens, skape en beeste sowel as hulle kleurling bediendes.  Hierdie trek staan vandag bekend as die “Groot Trek”.

 ______________________________

[1] Volgens Argiefstuk C.D. 3905 P 125.  Sien ook voetnota 2.

[2] Sien ook voetnota  3

[3] Ferdinand Paulus van Gass sê egter in sy boek “Een Afrikaander” dat sy vader in Zurich gebore is en sy moeder in Kopenhagen (Denemarke) en dat hy op 3 Oktober 1822 te Kopenhagen gebore is.  Hy sê ook dat hy agt maande oud was toe sy ouers na die Kaap Kolonie gekom het. 



Hoofstuk 2.

Ferdinand Paulus van Gass

 

Wit_Oemfaan1AMet die van Gass gesin het dit ook nie goed gegaan nie na die dood van die ma van die huis.  Omdat Johann van Gass nie meer vir al vier sy kinder kon sorg nie het ‘n Malan gesin vir Ferdinand onder hulle sorg geneem.  As jong seun het hy saam met die Malan gesin die Groot Trek meegemaak.
  

Die bekende Afrikaanse skrywe FA Venter het oor hom ’n boek geskryf naamlik, “Wit Oemfaan”, waarin sy wedervarings gedurende Die Trek beskryf word.  Die bron van Venter se boek was ’n boek wat Ferdinand Paulus self op sy oudag geskryf het naamlik “Een Afrikaander”.  Hierdie boek is op aandrang van die redaksie van “de Patriot” van die Paarl in 1883 in Nederland gepubliseer deur die uitgewer J. H. Kruyt.  Die oorspronklike boek is in Ferdinand se eie handskrif deur A.G.C. van Duyl verwerk en gereed gemaak om uitgegee te word.  Hy sê in die inleiding tot die gedrukte boek dat dit maar moeilik was om die handskrif te lees want my oupa-grootjie het nie ‘n maklik leesbare handskrif gehad nie.  Hier langsaan is ‘n voorbeeld van sy handskrif wat in die boek opgeneem is.  Hierdie boek is later opgeneem in “Voortrekker  Mense” saamgestel deur Gustav Preller.

 Een van die verhale wat hy in sy boek vertel wys duidelik die gehalte van die voortrekker kinders.  Hy, as 14jarige seun, saam met ‘n groepie ander kinders het eendag te perd ‘n ent weg van die laer gery.  Op ‘n plek het hy ‘n heuning voëltjie gesien en besluit om, op sy eie, te voet die voëltjie te volg met die hoop dat hy hom na die nes met heuning sal lei.  Dit het ook so gebeur en hy het ‘n hele klomp van die heuning uitgehaal en geëet.  Van die lekker soet heuning het hy lomerig geraak en besluit om ‘n rukkie te lê en slaap.  Hy het wakker geword toe ‘n reën bui op hom uitgesak het.  Hy het hy vinnig terug geloop na die plek waar hy en die ander kinders die perde gelos het maar hulle was nie meer daar nie.

Hy het probeer om die spore van die perde te volg maar die reën het dit weggespoel. Al wat Ferdinand by hom gehad het behalwe die klere wat hy aangehad het was ‘n knipmes en ‘n tonteldoos waarmee hy ‘n vuur kon aansteek.  Hy het vir ‘n hele paar maande stok siel alleen in die woeste land oorleef.  Hy sê in sy boek dat hy nie bekommerd was dat hy nie genoeg kos in die hande sou kry nie want hy het die veld geken en geweet watter plante hy kon eet.  Hy het ook wippe gestel vir voëltjies en selfs klein bokkies.  Waaroor hy wel bekommerd was, was dat hy deur roofdiere oorval kon word terwyl hy geslaap het.  Hy het dus vir hom ‘n uitgeholde boom gesoek waarin hy ‘n mate van beskerming geniet het.  Hy het egter ook nog elke nag ‘n groot vuur voor sy uitgeholde boom gemaak.

 Nadat hy al baie lank so alleen gebly het hy een oggend voetspore naby die rivier wat daar naby was gesien.  Hy het geweet dat dit nie die spore van ‘n geveg impie kon wees nie wat daar was ook spore van vroue en kinders by.  Dit het later geblyk dat dit ‘n groep Zulu sprekende swart mense was wat weggevlug het van die slagting, as deel van die Mfecane, waarmee Shaka besig was.  Ferdinand, wat goed Xhosa kon praat en dus ook Zulu kon verstaan, het met die groep swart mense kontak gemaak.  Hy het hulle oortuig dat hy alleen was en dat hy geen kwade bedoelings gehad het nie.  Hulle het hom toegelaat om saam met hulle verder te trek. In die tyd wat hy by hulle gebly het, het hy hulle leefwyse goed leer ken.  Hy het seker ook goed leer Zulu praat.  Die boek “Wit Oemfaan” van Venter, beskryf hierdie tydperk in Paulus se lewe.  Dit was eers ‘n hele paar maande later wat hy weer by die ander trekkers uitgekom het.

 Voor ek verder gaan moet ek eers meer vertel oor die Mfecane.  In die Sotho tale noem hulle dit Difaqane of Lefaqane  , wat “geforseerde migrasie van die nasies” beteken. In die Nguni tale noem hulle dit Mfecane wat “verplettering” of “verslaan in oorlog” beteken.  Dit beskryf ‘n tydperk van groot veranderinge en chaos wat in suidelike Afrika geheers het tussen 1815 en 1840.

 In die tweede helfte van die sewentiende eeu het daar twee Nguni stamme nl. die Ndwandwe en die Mthetwa in die gebied ten noorde van die Tugela rivier ontstaan Hulle was sterker as die omliggende stamme.  As gevolg van verskeie redes maar veral weens die toename van die bevolkingsdruk op die beskikbare landbou grond, het die stamme in die gebied teen mekaar begin veg om hulle grondgebied uit te brei om sodoende meer weiding in die hande te kry.  Omdat die Ndwandwe en die Mthetwa  stamme die sterkste in die gebied was het hulle die kleiner buur stamme saam met hulle grondgebied by hulle stamme ingelyf.  Daar het mettertyd ‘n stryd om oppermag tussen die twee groot stamme ontstaan.

 

Shaka wat van die Zulu stam afkomstig was en wat op daardie stadium maar ‘n klein stammetjie was, is deur die opperhoof van die Mthetwa stam as bevelvoerder van een van sy regimente aangestel.  Hy was ‘n gebore krygsman en ‘n sterk leier  en was so suksesvol dat hy uiteindelik bevelvoerder van die hele Mthetwa krygsmag geword het. Hy was ‘n uitstekende militêre leier en het verskeie nuwe innoverende gevegsmetodes aangewend.  Tot op daardie stadium was die assegaai as ‘n wapen wat na die vyand gegooi is gebruik.  Hy het dit verander na ‘n breë lem assegaai waarmee baie doeltreffend in binnegevegte na die vyand gesteek is, eerder as om dit te gooi.  Toe Shaka, na die dood van sy pa, hoof van die Zulu stam geword het hy die Zulu stam versterk en uitgebou.  Toe die hoof van die Mthetwa stam in ‘n geveg gedood is het Shaka die Mthetwa stam by sy kleiner Zulu stam ingelyf  Omdat hy ‘n baie suksesvolle en populêre militêre leier was is hy aanvaar as die koning van die hele groot stam. Shaka het ook in ‘n geveg die ander groot stam nl.  die Ndwandwe stam oorwin en by sy Zulu stam ingelyf.  Hy word dus as die vader van die Zulu koningryk beskou.

Van die oorblyfsels van die Ndwandwe stam het gevlug en noordwaarts getrek en op pad het hulle groot verwoesting en dood agtergelaat. 

 In1821 het Mzilikatzi, ‘n Zulu generaal, in opstand gekom teen Shaka en met ‘n groep volgelinge weggebreek en sy eie koningryk gevestig.  Hy het baie vyande gemaak ook onder die Griekwas, Tswanas en die Voortrekkers.  Na verskeie nederlae het hy besluit om noordwaarts te trek deur Tswana gebied, in wat vandag Suid-Afrika en in Botswana is en het hom uiteindelik in die huidige Zimbabwe gevestig.  Hy het Bulawayo sy hoofstad gemaak.  Op pad soontoe het hy ‘n pad van verwoesting en bloedvergieting agter gelaat.  Daar was ook nog baie ander gevegte in die tyd ook tussen Zulus en groepe soos die Tsonga.  Van hulle het ook deur Mosambiek na dele van die huidige Suid-Afrika gevlug.

 Van die Zulu sprekende groepe wat vir Shaka gevlug het weer ander stamme aangeval, onder andere ook van die Sotho stamme wat in die gebied wat vandag Lesotho is, gewoon het.  Hierdie mense het hulle in bergvestings verskans onder leiding van Moshoeshoe.  Sy gebied het later die koningryk van Lesotho geword.

  In sy latere jare het Shaka egter ongewild geraak want hy was ‘n wrede koning.  Hy is in 1828, ‘n eeu voor my geboorte, deur sy twee half-broers vermoor.  Een van hulle, Dingane, het toe koning van die Zulus geword. 

 As gevolg van die Mfecane het daar ‘n herverspreiding van swart volke plaasgevind en het groot gebiede ontvolk geraak terwyl ander gebiede, soos die bergvestings, weer oorbevolk geraak het. Die Mfecane het ook veroorsaak dat honderde duisende mense doodgemaak is.  Die groep wat seker die swaarste getref is, is die Tswana sprekende stamme. Baie van die mense is verjaag en baie is in gevegte gedood.  Omdat hulle die grond waaruit hulle ‘n bestaan gemaak het verloor het is duisende ook van honger dood.

 Die Mfecane het ook ‘n invloed op die Voortrekkers gehad.  Afgesien van die gevegte wat hulle met onder ander met Mzilikazi was groot dele van die gebied waardeur hulle getrek ontvolk en het hulle geen weerstand van plaaslike inwoners ondervind nie.  Hulle het dus nie deur gevegte grond van swart stamme afgeneem nie.  Waar daar wel plaaslike bewoners van die grond was het hulle met die stamme onderhandel om grond te bekom.

 Die Voortrekkers in Natal het destyds met Dingaan die Zulu leier onderhandel om grond te bekom waar hulle kon vestig.  Hy het daartoe ingestem op voorwaarde dat hulle ‘n groot hoeveelheid beeste wat van hom gesteel is moes terug kry.  Dit is gedoen onder leiding van die Trekker leier Piet Retief.  Daar is selfs ‘n Traktaat  opgestel wat die oordrag van die grond bevestig en is deur beide partye onderteken.  ‘n Engelse Sendeling, Francis Owen, en ‘n tolk, William Wood, was ooggetuie van die ondertekening.  Die inhoud van die Traktaat lees as volg:

 

                                                                        Unkuginsloave

                                                                                    the 4th February,

                                                                                                1838.

 Know all men by this that Whereas Pieter Retief, Governor of the Dutch Emigrant South Africans has retaken my cattle which Sikonyella had stolen which cattle he the said Retief now delivered unto me.  I Dingaan, King of the Zoolas as herby certify and declare that I thought fit to resign unto him the said Retief and his countrymen (on reward of the case hereabove mentioned) the place called Port Natal together with all the land annexed that is to say from Dogeela to the Omsoboebo River westward and from the Sea to the north as far as the land may be useful and in my possession which I by this and give unto them for their Everlasting Property.

De merk XXX van de

Koning Dingaan

Als getuige                                                      Als getuige

       M. Oosthuyse                                                Maoro, groot raadslid

A.C. Greyling                                                 Joelawoesa, idem 

B.J. Liebenberg                                               Manonda, idem


Toe Piet Retief en sy manne die traktaat in ontvangs gaan neem by Dingaan se hoof dorp is hulle op ‘n slinkse en wrede manier vermoor.[1]

 Daarna is ‘n groot klomp Trekkers, wat tydelik wyd verspreid op grond gewag het, onder andere by Bloukrans, baie wreed deur Zulu impi’s vermoor.  Mans, vrouens en kinders is met assegaaie doodgesteek.  Selfs klein babatjies is teen die wa-wiele dood geslaan.

Ferdinand was een van die eerste mense wat op van hierdie moord tonele afgekom het. Die voortrekkers het toe besluit dat Dingaan en sy Zulu impi’s moet gestraf word vir hulle verraad en is daar ‘n staf-kommando uit gestuur.  Aanvanklik was hulle nie baie suksesvol nie maar nadat hulle berig ontvang het van ‘n groot Zulu-mag wat na hulle op pad was het hulle hul voor bery vir ‘n groot geveg.  Hulle  het ‘n laer van waens langs ‘n rivier getrek en het voor die slag onder leiding van die leier Sarel Celliers tot die Here gebid en ‘n gelofte afgelê dat as Hy aan hulle die oorwinning gee hulle die dag elke jaar as ‘n Sabat-dag sal herdenk en dat hulle ook ‘n kerk sal bou ter ere van Sy naam.  Dit is hoekom daar nog jaarliks op 16 Desember Gedenkdienste in die Afrikaanse Kerke gehou word.  Daar is ook later in die dorp Pietermaritzburg, wat deur die Voortrekkers gestig is, ‘n kerk gebou.  Hierdie gebou is vandag ‘n museum en staan bekend as die Voortrekker Kerk.[2]  Sarel Celliers is ‘n familie lid van Sorine, Johan se vrou.  Die Voortrekkers het die krygers van die Zulu koning Dingaan ‘n groot slag toegedien het.  Dit het plaasgevind op 16 Desember 1838. Daar was soveel bloed in die rivier dat dit toe die naam gekry het van Bloedrivier en na die slag verwys is as die slag van Bloedrivier.

 Ferdinand het die hele Groot Trek meegemaak en was ook teenwoordig by die Slag van Bloedrivier.  Skynbaar was sy jonger broer, Johan Hendrik, ook by die Slag teenwoordig. Na die Groot Trek het Paulus teruggekeer na sy pa in die Oos-Kaap maar hy wou nie daar bly nie.  Hy het vir sy pa gesê dat hy van plan was om na Kaapstad te gaan.  Die ou Switser wat onder Napoleon teen die Engelse geveg het hom afgeraai om Kaap toe te gaan want daar was ook Engelse.  Hy het hom aangeraai om eerder na Amerika te gaan.  Hy het dit nie gedoen nie, maar miskien moes hy, dan was ons nou almal Amerikaners.

 In die Kaap het hy onder ‘n skuilnaam vir sy oupa gaan werk.  Hy het as koetsier gewerk en het sy oupa orals rond geneem sonder dat sy oupa besef het dat dit sy kleinseun was wat vir hom werk.  Eers na ‘n lang tyd het daar ‘n brief in Ferdinand se eie naam daar aangekom en het sy oupa besef wie hy werklik was.  Sy oupa was baie bly dat hulle hom weer kon sien want hulle het gedink dat hy lankal dood was.  Hy het die Kaap weer in 1847 verlaat en terug gegaan na die Oos-Kaap waar hy as jagter gewerk en met die trekkers in die Vrystaat en Transvaal handel gedryf het.  Hy is in 1853, toe hy 29 jaar oud was, getroud met Anna Elizabeth Sopheija Dreyer.  Sy was 16 jaar oud.  In daardie jaar het hy ‘n plaas van die regering gekry en begin boer.

 Hy het later na die plaas Rietvlei, naby Pos Retief in die Winterberge getrek.  Anna was van die Winterberg, distrik Adelaide.  Hulle het 14 kinders gehad.  Ferdinand is op 5 April 1883 in Adelaide in die Oos-Kaap oorlede

 Hulle oudste seun, Jan George, was my oupa.  Hy is in 1856 getroud met Maria Elizabeth Pohl Cloete en hulle het drie seuns en een dogter gehad.  Hulle het ook in die Oos-Kaap gewoon maar het ook, soos baie ander Afrikaners, na die ontdekking van goud op die Witwatersrand en voor die Anglo-Boereoorlog, na Transvaal verhuis en hom op die Oos-Rand gevestig.  Hy was werksaam op een van die goudmyne.  Behalwe vir hierdie inligting weet ek maar baie min van hom of my ouma.  Ek vermoet dat hulle baie Engels gesind was want hulle het al die kinders sulke engelse noemname soos Sunny, Lassie en Norman gegee.  Hulle was ook tydens die Anglo-Boere oorlog in Transvaal maar ek weet nie wat hulle rol in die oorlog was nie.  Ek het ‘n groot punt 45 rewolwer van my oom Norman geërf wat skynbaar deur my oupa gebruik is om wagdiens by die myne op die Oos-Rand te doen.  Hierdie Engels gesindheid mag een van die redes wees waarom die latere Kruger familie waaruit my ma kom nie eintlik oor hom gepraat het nie want hulle was baie beslis anti-engels gesind.  Daar mag ook nog ander redes gewees het hoekom die familie nie eintlik van hom gepraat het nie. Ek weet darem van ten minste van een van Gass wat aan Boerekant geveg het.

 Net voor die uitbreek van die oorlog het Danie Theron, ‘n prokureur van Pretoria na die Transvaalse regering gegaan en voorgestel dat hy ‘n fietsryers korps begin.  Dit is goedgekeur en hy is aangestel as Kaptein en het toe begin om manne te werf vir sy korps.  Een van sy Luitenante was H.H. van Gass.  Die eenheid is later omskep na ‘n verkenners korps.  Dit was een van die mees suksesvolste geveg eenhede aan Boerekant in die oorlog.[3]  Ongelukkig weet ek nie wie die Luitenant H.H. van Gass was nie of wat van hom geword het nie.  

 


[1] Blood River deur V.E. d’Assonville Uitgewers Marnix

[2] Ek het hoofsaaklik gebruik gemaak van “Uitdaging & Antwoord” van Jackie Grobler vir die historiese agtergrond feite in hierdie hele stuk.

[3] The South African Military History Society.  Military History Journal Vol 4 No 1.  Bicycles in the Anglo-Boer War of 1899-1902 by D.R. Maree 





Tuisblad
Kommunikasie
Nuusbrokkies
Geskiedenis
Foto's
Geslagregisters
Stamboom
 
 
Site Map